Spanningsromanse of ’n Liefdesverhaal – Watter Een? Of Beide?

  • Posted on December 1, 2011 at 5:06 am

Anders gestel, verkies lesers ‘n verhaal wat net handel oor die ontwikkelende verhouding tussen die held en heldin of kan daar maar so ietsie meer by wees?

Gereelde lesers van Romanzas, Satyn, Jasmyn en soortgelyke reekse weet wat hulle kry sodra hulle die boek van die rak af neem. ‘n Kort liefdesverhaal waar die held en heldin op die einde, na vele emosionele storms, wel geluk vind in mekaar se arms. Dit is die kenmerke van die reekse en dit werk – soos bewys deur die gewildheid van die tipe liefdesromanses. Die hele fokus van die verhaal gaan oor die emosionele groei van die heldin, wat dikwels afspeel in ‘n fiktiewe milieu ver verwyderd van die alledaagse bestaan van meeste lesers.

Wanneer lesers ‘n dikker boek van die rak afhaal, verwag hulle ‘n verhaal (roman) wat meer gegrond is in die werklikheid. Aktuele sake word dikwels ook in die boeke aangespreek en die agtergrond waarteen die verhaal afspeel, reflekteer die alledaagse bestaan van die meeste mens in Suid – Afrika. Hierdie is nie noodwendig ‘n ontsnapping van die werklikheid nie, maar meer ‘n ontdekkingstog oor hoe die hoofkarakters groei en funksioneer in dit wat ons as lesers elke dag ervaar. Die ontwikkelende liefdes-tema is dikwels dan ook nie die hooftema van die boek nie.

Wat gebeur dus wanneer hierdie grense tussen die twee “genre’s” verdof en ’n verhaal nie volmaak pas in een van die twee kassies nie? Die verhaal is kort en fokus op die ontwikkelende verhouding tussen twee mense, maar daar is nog ’n storie – miskien ’n speurverhaal of misterie – wat ook die storie aandryf.

Eerstens gaan die skrywer sukkel om ’n uitgewer te oortuig dat hierdie boek bemarkbaar sal wees en tweedens is daar werklik nog te min van hierdie korter verhale op die mark om enigsins gesaghebbend vas te stel hoe die publiek sodanige publikasies sal ontvang. Dit blyk dus dat tot meer van hierdie tipe verhale gepubliseer is, dat skrywers hulle sal moet beperk tot een van die twee kategorië om publikasie van die verhaal te verseker.

Wat dink julle? Is daar ’n toekoms vir verhale wat genre grense ignoreer? Sal julle sulke boeke koop?

If you enjoyed this post, make sure you subscribe to my RSS feed!
Share

Comments are closed.