Feminisme en Liefdesverhale: Kan die Twee Versoen?

Vandag het ek ‘n oulike artikel raakgeloop oor die feministiese siening wat daar soms steeds oor liefdesverhale heers. Die artikel op die Romanzalesers-blog bevat lekker stof tot nadenke vir diegene wat ten spyte van wat die statistieke al bewys het, steeds neerkyk op skrywers van liefdesverhale.

Romanza en skeptiese feministe | Romanzalesersblog.

’n Genre wat fokus op die liefdesverhouding  tussen ’n  man en ’n vrou laat gereeld wenkbroue  lig, nie net by meeste mans nie, maar ook by vroue wat selferkende  feministe is.

Die perfekte oplossing (Hoëres)

Volgens die patriargale sisteem is ’n vrou  eers ’n volwaardige persoon nadat sy die titel van mevrou bygekry het. Indien sommige vroue dus romantiese  fiksie  wil vermy is dit te verstane.

Maar ons bevind ons nou in die 21ste eeu waar feminisme nie meer ’n vloekwoord is nie en feministe  ook nie meer hulle bra’s verbrand en hulle beenhare laat groei nie. Kaalvoet en pregnant is  by die deur uit saam met die siening dat ’n butch-voorkoms jou onafhanklikheid beklemtoon.

Janice Radway, ’n kenner op die gebied van romantiese fiksie,  se navorsing bewys dat feminisme eintlik ’n subversiewe  genre is omdat die skrywer  (en die leser)  mans skep soos vroue hulle wíl hê en nie soos hulle werklik is nie.

kaalvoet-oor-die-drakensberge-is-seker-nie-meer-van-toepassing-nie-maar-onthou-ons-beaumans-het-nie-voete-van-klei-nie-ons-dra-stiletto-s-van-staal-vanessa

En nee, die lesers is nie almal treurige oujongnooiens wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie. Dié genre se heldinne is  sterk vroue: besigheidsvroue, onderwysers, joernaliste, prokureurs – noem maar op. En so is die lesers, want die heldin is die leser se alterego.

Die romansegenre is onlosmaaklik verbind  aan die evolusie van die vrouebeweging. Vroue is weer  vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging.

Kaapse draai (Hoëres)

Geen moderne vrou kan identifiseer met ’n sorry-Suzie wat te dankbaar sal wees om haar man se skoensole te soen nie. Dus is die heldin sterk, onafhanklik, trots en hoewel sy  nie, in die woorde van Romanzaskrywer Madelie Human, “haar bra hoef te verbrand om op haar regte te staan nie” – kry sy haar spreekbeurt.

Die held daarteen is haar gelyke. Hy vul haar aan en aanvaar haar ware self, sonder om ’n vloerlap te wees waar sy haar stiletto’s kan afvee. Hulle is lief vir mekaar en waarom kan die liefde en  feminisme nie hand-aan-hand loop nie?

Handomkeer_Madelie Human

Die feministe vergeet gerieflikheidshalwe dat romantiese fiksie ’n genre is wat deur vroulike skrywers oorheers word. Of dat dit vroue toegelaat het om hul eie geld te verdien in ’n era voor vroue die arbeidsmark kon betree.

Vurige heldinne  lewer beslis ’n bydra tot die  opheffing van vroue. Of dit so direk is soos die heldinne van die Davelvroue-reeks of meer indirek deur rolmodelle te wees.

Die Amerikaanse skrywer, Suzanne Brockmann, sê oor haar heldinne: “Ek dink die boodskap wat ek deur my boeke stuur is dat vroue sterk kan wees. En dat vroue sterk moet wees. En dat die liefde  nie gaan oor die verlies van jouself nie, maar eerder om saam met jou geliefde te werk. Dit gaan nie oor ‘Eendag sal my prins kom en my volledig maak nie’ eerder ‘Eendag gaan ek iemand ontmoet, en ons sal langs mekaar werk om saam ’n toekoms te bou.”

En dis die kern van die romanse:  Vroue word op ’n subtiele wyse bemagtig.

***

Vir meer inligting en lekker gesels en proestukkies uit Romanzaskrywers se penne, besoek gerus die Romanzelesersblog  op http://romanzalesers.wordpress.com/

‘n Vrou is Niemand se Speelding

Image Courtesy of Valdemaras http://valdemaras.deviantart.com/art/White-Rose-79624850

Mishandeling van vroue neem soveel vorme aan dat mens soms wonder hoe ’n vrou in vandag se lewe oorleef. Wat my die meeste hinder is dat die fisiese geweld baie meer blootstelling kry in die media —wat goed is—maar die emosionele teistering, verkleinering, mishandeling en aftakeling word selde, indien ooit, belig. In die tyd wat ek as Kommissaris van die Kinderhof gedien het, het ek die impak van hierdie emosionele mishandeling op families eerstehands gesien. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het nie ’n graad in sielkunde of berading nie en die opinies wat ek hier vorm is geheel en al my eie en gebaseer op dit wat ek self gesien het gedurende my tyd as landdros.

Miskien gooi ek nou die jakkals in die hoenderhok en ontketen ek ’n hele herrie (gelukkig lees min mense my gerammel) maar ek was altyd van die opinie dat die fondasie van alle verhoudings wedersydse respek vir mekaar moet wees. Indien kinders van babatyd af geleer word om mekaar en ander persone se eiendom te respekteer, kan baie van ons sosiale probleme opgelos word. Dis ’n oorvereenvoudiging, maar tog kring dit wyd uit. Leer kinders dat alle mense, ongeag wie of wat die persoon is, respek verdien en moenie persoonlike vooroordele oordra aan die kinders nie. As kinders die basiese beginsels van respek geleer word, sal daar heelwat minder volwassenes wees wat met haat in hulle harte rondloop. Laat die kind self besluit wie verdien die meeste respek en wie nie. (My beskeie mening.)

Mans wat vrouens mishandel, hetsy fisies of emosioneel, het volgens my ’n algehele gebrek aan respek vir die menswees en vrouwees van die persoon wat hulle teiken. Hoe kan jy iemand respekteer as jy voel daardie persoon is jou besitting om mee te maak wat jy wil? Ongelukkig word hierdie gedagte prosesse dikwels aan die kinders oorgedra as aanvaarbare gedragspatrone en die hele siek siklus herhaal hom keer op keer.

In my laaste boek, Speelgoed, is die hoofkarakter ’n vrou wat besluit het dat sy nooit weer iemand se speelding sal wees nie. Na ’n huwelik gevul met geweld en emosionele aftakeling, het sy mans afgesweer. Ek het met opset probeer om die tema lig te hou en net na die impak van hierdie mishandeling op haar eie ervaring van vrouwees te ontbloot. In teenstelling met wat meeste mans dink, het vroue ook lyflike behoeftes wat net so lank geïgnoreer kan word. Wat die vrou daaromtrent doen, kan soms katastrofiese gevolge hê.

Hier is ’n uittreksel uit die boek:

Later kyk Annelie die verdwynende liggies van die motors agterna voordat sy omdraai en terugstap in die huis. Sy sal vir Wynand moet waarsku oor Barend. Hoe sy dit gaan doen sonder dat haar neef kapmesse begin rondgooi weet sy nie, maar dis beter dat hy voorbereid is op die moontlikheid dat Barend hier kan opdaag. Sy wil nie nog ’n moord verduidelik nie. Hierdie keer sal die speurder werklik nie glo sy het niks daarmee te doen as haar neef haar eksman vermoor nie. Hy sal die samelewing ’n guns bewys, maar sy is seker die regstelsel sal dit nie as versagtende omstandighede aanvaar nie.

In die kombuis is Wynand nog besig met die laaste voorbereidings vir die volgende dag se spyskaart. Annelie wip op ’n blinkskoon toonbank en wag vir die onafwendbare skrobbering wat altyd volg.

“Nig, jy beter ’n bleddie goeie rede hê om op my skoon kaste te klim.” Hy gluur haar ’n oomblik aan voordat hy die vadoek oor sy skouer slinger en met sy heup teen die kas by haar staan.

“Hoekom lyk jy asof die honde jou kos afgeneem het?”

Sy trek haar skouers op. “Ek het gedink ek is vir altyd van hom ontslae.”

Wynand frons. “Van wie?” Hy trek sy asem skerp in. “Het hulle Barend vrygelaat?”

“Nee, hy het ontsnap.”

“O hel.”

Wynand kreun as hy sy groot lyf op die kas langs haar ophys. Die kas kraak in protes. Gaan die granietblaaie werklik sterk genoeg wees om sy meer as honderd kilogram te dra? Miskien as sy doodstil sit.

“Dink jy hy sal …”

“Hierheen kom?” Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie, maar dit is ’n moontlikheid. Hy het my pa vermoor vir sy geld wat hy toe nooit gekry het nie.”

“En nou gaan hy dink dit kom hom toe sodat hy vir hom ’n lekker lewe in een of ander obskure land kan gaan uitwerk.”

“Miskien. Maar miskien sal hy hom net uit die voete maak. Hy is nie onnosel nie. Die polisie sal hom heel eerste hier kom soek.”

Wynand snork. “Dan is hulle ook idiote. Jy het so lank voor die besigheid niks met hom te doen gehad nie ek weet nie hoe hulle ooit sal kan dink jy is betrokke nie.”

“Ek het gister weer die speurder wat die saak destyds ondersoek het, in die stad raakgeloop. Nou wonder ek of dit toeval was.”

Wynand frons. “Waar het jy hom raakgeloop? Hy werk mos nie in Pretoria nie.”

Annelie kan die blos wat oor haar wange sprei nie keer nie. “Jy wil nie weet nie.”

Een kyk na haar rooi gesig en Wynand vryf sy hande teenmekaar en grinnik. “Uit daarmee. Waar was jy toe jy veronderstel was om voorraad op te laai?”

“Maak nie saak nie,” brom sy en mik om van die kas af te spring. Hy hou haar egter maklik met die een hand terug.

“O nee ou Nig. So maklik kom jy nie weg nie.”

Annelie sug. Kon sy nie maar haar groot mond toe gehou het nie? Nou sal hy aanhou totdat hy dit uit haar het en dan die alewige geterg.

“By ’n sekswinkel in East Lynn.”

Vir die eerste keer sedert sy Wynand ken is hy stil. Sy loer in sy rigting. Sy mond gaan oop en hy haal diep asem en dan maak hy weer sy mond toe. Sy oë soek deur die kombuis, maar kom nie tot rus nie. Dan kyk hy haar weer aan en skud sy kop.

“Sjame.”

“Ag, gaan bars man. Dit was vir die damesgroep en ek het op die ou einde niks gekoop nie.” Sy gaan hom beslis nie vertel waarom sy niks gekoop het nie.

“Nig, as ek my droomvrou in ’n sekswinkel raakloop sou ek ook maar maak of ek by verkeerde plek ingestap het.”

Sy klim van die kas af en swaai haar vinger beskuldigend onder sy neus. “Mens kan jou ook niks vertel nie. Ek gaan slaap, so moenie te veel raas nie.”

Sy lag dawer deur die kombuis. “’n Sekswinkel. Wie sou kon raai my nig raak so desperaat?”

Hy lag steeds wanneer Annelie die deur agter haar toetrek en in die gang afstap. Al kan hulle mekaar se siele versondig, was Wynand haar redding. As hy en sy vrou, Grace nie ingestem het om hier by haar te kom werk nie, was die gasteplaas nie moontlik nie.

Die woonsteldeur klik sag agter haar toe en sy sak op die bed neer. Soos ’n outomaat trek sy die rekkie uit haar vlegsel en kam haar hare uit. Hugo en Barend hoort nie in haar lewe nie. Hoe minder sy van hulle sien, hoe beter. Hulle verteenwoordig ’n see van pyn waarin sy byna verdrink het. Nie weer nie. Sy sal geen man weer toelaat om haar menswees van haar te stroop nie. As sy Hugo uit haar gedagtes verban, verbreek sy die mag wat hy oor haar het en sal haar gekneusde vrouwees haar geheim bly. 

 Speelgoed is beskikbaar by Amazon, Kobo, Kalahari en verskeie ander aanlyk boekwinkels.

Vyf Kerse vir ‘n Facebook-Vriendin

candles

 

Kerse het deur die eeue heen verskillende betekenisse vir verskillende mense gehad. Soms is die kers romanties, soms ‘n teken van spiritualisme, soms om te onthou en soms, soos vandag, net om te sê ek dink aan jou. Maar soos gewoonlik span ek die kar voor die perde in. Eers ‘n bietjie geskiedenis, sodat almal kan verstaan hoekom hierdie vyf kerse my so na aan die hart lê.

Vandag, presies een jaar gelede, het ek met verwondering na die foto’s gekyk wat my Facebook-vriendin op haar profiel gelaai het. Sy het pas ‘n nuwe ouma geword van die mooiste babadogtertjie met ‘n vol gesiggie en hemelblou ogies. Ek het saam met haar gejubel en met oopmond na die nuutste wonderwerkie gestaar, want sien, ek was ook op pad om ‘n splinternuwe ouma te word. Elke foto wat sy gelaai het om met die res van die wêreld te deel het ek bewonder en gedink ek verstaan hoe trots sy voel, hoe vol haar hart moet wees.

Ek was verkeerd. Eers toe ek net meer as vier maande gelede my eie kleindogter in my arms gehou het, het ek regtig verstaan. Geen mens wat nie self ‘n ouma is nie, kan daardie oombliklike volheid in jou hart, daardie byna bo-menslike liefde wat bot, bloei en jou hele wese volrank, verstaan nie —nie regtig nie. Die oomblik wat die besef deurdring dat hierdie volmaakte, Godgegewe geskenk, deel is van jou eie liefde eerstens vir die pa van jou dogter en tweedens daardie onbreekbare, onverskrokke liefde wat ‘n ma vir haar kind het. En jy besef jy is sandkorreltjie klein en jy kruip jou knieë nerf-af om te probeer dankie sê terwyl jy weet die ses-en-twintig letters van die alfabet sal nooit genoeg woorde kan saamflans nie.

Hierdie twee prag-kinders het saam gegroei en ontwikkel vir meer as vier maande en elke foto was ‘n plesier om te bestudeer. Sjoe, maar sy het groot geword van die eerste foto wat ek gesien het en ouma lyk so gelukkig soos net ‘n ouma kan wanneer sy haar kleindogter vashou. Ek het asem opgehou vir die aankondiging dat sy haar eerste treë gegee het.

elena

Maar op 31 Julie 2014 lees ek die mees ontstellende berig. Die Here het Elena kom haal en my Facebook-vriendin is stukkend. Deur die trane probeer ek my indink hoe sy moet voel, maar die seer is heeltemal te veel. Ek WIL nie weet nie en steeds brand die hartseer ‘n gat in my bors. Sê nou dit was Liyane? Sal ek dit ooit kan verwerk? Kan enige iemand dit verwerk? Elf maande oud en so pragtig en gesond. Ek wil skree en skel en vra WAAROM? Waarom ‘n onskuldige kind wat deur almal om haar liefgehad was, gekoester was en so welkom was? Kyk hoeveel ander kinders word verwaardloos, is onwelkom, word mishandel. Hoekom dan nou hierdie enetjie so voor haar tyd neem?

My Facebook-vriendin se pyn is duidelik, skerp en soos ‘n vlam wat deur haar normaalweg vrolike insette skroei. Elke keer wil ek vir haar sê ek verstaan. Maar ek verstaan NIE. Niemand kan nie. Tensy dieselfde smeltkroes vir jou gedeel was, sal jy nie verstaan nie. En ek huil weer omdat ek nie die woorde het om te sê ek is jammer nie, om te sê ek bid elke aand vir jou as ouma nie. Woorde wat so dor klink soos die woestyn op ‘n wolklose dag.

So vandag steek ek nie net een kers aan vir Elena nie—ek steek vyf aan. Elena, want al het ek haar nooit self ontmoet nie, voel dit asof ek haar ken deur haar ouma. Irene, want geen jong moeder verdien hierdie hartseer wat aan haar uitgedeel is nie. Edmundo, want jy het al op skool my hart gesteel as vriend vir my seun, Oupa Ferreira, want daardie hart moet in stukke wees en nou moet hy sterk wees vir die res. Laaste en belangrikste, vir Ann, want al het ek nie woorde nie, hierdie ouma-seer het baie meer as ‘n pleister nodig.

Hierdie lirieke sê dit so mooi:  Daughty – Gone Too Soon

Wanneer Mens Moet Oor Begin

 

Dis nou wat gebeur as jy vir maande lank te besig is om aan jou weblog aandag te gee. Jy verander jou vonkposadres en siedaar, jou ‘hosting’ se vervalkennisgewing bereik jou nie—jy verloor jou hele bloomen blog. Nou ja, huil gaan nie help nie, so mens begin maar voor.

Vir diegene wat my nog nie ken nie, my naam is Yolande Pienaar en ek skryf stories. Natuurlik verskil mense se opinies oor hoe goed of sleg die stories geskryf is en dis okei, want dis nou ongelukkig iets waaroor ek geen beheer het nie—skryf moet ek skryf. Die boeke wat tans te koop is, is te vinde op die bladsy genaamd Boeke deur Yolande Pienaar indien iemand belangstel.

Ek hou van stories wat mens die ligter kant van die lewe laat sien, want wraggies, die alledaagse lewe het genoeg van sy eie kwaad. So ja,  ek hou van humor en ek glo die liefdesverhaal-genre leen hom by uitstek daartoe om die simpel goed wat mens elke dag aanvang uit te buit in ‘n storie. (En ek is oud genoeg om baie van daardie idiotiese dinge self te ervaar het.)

Op hierdie blad gaan lesers in die toekoms so ietsie van alles kry—van  nuutgepubliseerde liefdesverhale in Engels en Afrikaans tot ‘n alledaagse gerammel oor die stampe en stote van die lewe. Hierdie is tog ‘n web-joernaal so, anything goes.

Tussen ons, het julle gesien hoe klim die Suid-Afrikaanse skryfster Marie Dry se boek Alien Mine deur Amazon se topverkoperlyste? Die boek is skaars ‘n week op die rakke en tans 369 ste op die VSA webwerf se topverkopers!

 

 

In a bleak future where government systems are breaking down and lawless bands of men terrorize the country, botanist Natalie Hanson fears for her life and hides in a cave in the Rocky Mountains. When she is captured by human raiders, a fierce alien appears and slays her attackers. Natalie is now held captive in her own cave by the sexy and striking alien commander, Zacar, who informs her that she will be his breeder. Natalie soon realizes that these aliens worship strength. So what will happen when Zacar finds out she has severe asthma?

Totsiens tot ‘n volgende keer.

Skrywer