Displaying 1 - 5 of 17 entries.

Maanvrug deur Annelise

  • Posted on April 23, 2013 at 7:02 am

Maande lank het my vinger gehuiwer op die bestelknoppie wanneer ek die boekbeskrywing op Amazon.com en Kalahari.com gelees het. Verlede week het ek uiteindelik toegegee tot die versoeking en die digitale weergawe van die boek aangeskaf. My nuuskierigheid het eenvoudig die oorhand gekry. Ten spyte van alles wat ek hier kwytraak, is ek geensins spyt oor my aankoop nie.

Dis altyd moeilik om ’n resensie oor ’n boek te skryf en ek is geen resensent nie. Volgens JB Roux se artikel in Rapport is my eie skryfwerk vrot van die taalgoggas en die stories voorspelbaar. So hierdie is nie uit die oogpunt van ’n skrywer geskryf nie, maar uit die oogpunt van ’n leser.

Maanvrug is nie ’n boek vir kloosterkoeke nie. Baie mense beweer dis ‘n Afrikaanse 50 Shades, maar Maanvrug is gepubliseer nog voordat die Engelse boek die lig gesien het en in my nederige opinie, baie beter geskryf.

Jy moet oopkop wees as jy die boek lees en heeltyd besef dat die meeste van die tonele fantasieë is van die hoofkarakter. Die boek handel oor Selene se soeke na seksuele bevrediging – binne en buite die huwelik. Haar fantasieë betrek meestal vreemdelinge terwyl sy emosioneel steeds van haar man se liefde en goedkeuring afhanklik bly.

Annelise slaag daarin om die leser van die eerste bladsy te betrek by die stryd wat Selene voer om haar eie seksualiteit te ontdek. Sy skryf sonder doekiesomdraai en mens kan nie anders as om die hoofkarakter met tye effe te bejammer nie. Dit is nie ’n maklike pad wat sy gekies het om te stap nie.

Sommige van die fantasieë het my as leser ongemaklik gestem, maar dit kan ook wees omdat ek jare lank as staatsaanklaer en landdros werksaam was. Dominansie op seksuele gebied is aanvaarbaar binne perke. Ongelukkig het ek enkele tonele as te gewelddadig en vernederend ervaar om dit te geniet.

In die geheel beskou het die boek egter geslaag om my gebonde te hou tot op die laaste bladsy. Wees gewaarsku, indien jy die boek begin lees gaan jy dit moeilik neersit. Mens moet eenvoudig uitvind hoe dit eindig. En hou maar ’n koue dingetjie naby wanneer jy dit lees.

Ter opsomming:

Erotiese waarde – 9/10

Skryfstyl – 10/10

Herleeswaarde – 6/10

Maanvrug is ook beskikbaar by onder andere Kobo, Leserskring en mybooks.co.za.

Share

Afrikaanse Erotiese Fiksie–Kompetisie

  • Posted on December 6, 2012 at 11:56 pm

 

Soos altyd is ek die agteros wat in die kraal kom. Dus het ek eers gister uitgevind van die kompetisie aangebied deur NB Uitgewers vir die skryf van ’n erotiese liefdesverhaal.

Ultrasatyn noem hulle dit en die naam sê alles. Dit impliseer satynlakens, rooi rose en hope romanse. Net wat ons wêreld nodig het om van die alledaagse werklikheid te ontsnap.

Dit moet ’n liefdesverhaal wees en die hittegloede wat dit laat ontstaan moet brandrissies na baba’s laat lyk. Die heel beste aspek van die kompetisie is dat die verhaal in Afrikaans geskryf moet word.

Hoog tyd sou ek sê.

Daar is soveel internasionale webblaaie wat erotiese fiksie aanbied (waarvan die grootste Ellora’s Cave is), dat dit steeds ongelooflik is dat ons nog nie so diens in Afrikaans het nie. En die boeke is gewild. Kyk maar na Maanvrug van Annelise, wat op Leserskring se eboeke een van hulle aanbevole boeke is. Op Amazon is dit ook ’n goeie verkoper en Kalahari.com verkoop dit ook.

Persoonlik vermoed ek die idee vir die kompetisie het ontstaan uit die weghol sukses wat EL James die Fifty Shades boeke in Suid-Afrika geniet het. Daar is enkele erotiese liefdesverhale in Afrikaans op die mark en die meeste is van skrywers wat die selfpublikasie roete moes volg.

En laat ons nou maar eerlik wees, erotika in Afrikaans is, en sal altyd ’n moeilike ding wees om te skryf. Dit kan so gou goedkoop voorkom omdat die Afrikaanse taal nie so gemaklik met die intieme terme omgaan nie. So skrywers en skryfsters wat hierdie genre aanpak sal hul woorde versigtig moet kies.

Daarom dat hierdie kompetisie my opgewonde stem. Die beoordeling is anoniem en enige persoon kan inskryf. Die pryse? Vet kontant pryse maar die belangrikste, publikasie deur NB Uitgewers in eboek vorm.

Vir die reëls en meer inligting sien NB Uitgewers se webblad.

Share

Wen ‘n Kopie van Katelknaap vir Carlien–Week 1

  • Posted on November 4, 2012 at 1:00 pm

Soos beloof verlede week: Hier die die eerste vraag wat jy kan antwoord om ‘n kopie van Katelknaap vir Carlien te wen:

Wat is die naam van die dorp waar Karen haar internet-kafee bedryf?

Onthou die antwoord is te vind in die boek Gogga op ‘n Harley.

Hoe maak jy om in aanmerking te kom vir die trekking vir ‘n getekende eksemplaar van Katelknaap vir Carlien?

1. Laat jou antwoord en naam in die kommentaar blokkie hieronder. Dit sal nie onmiddellik gepubliseer word nie – eers volgende Maandag sodat almal ‘n regverdige kans staan om die boek te wen.

2. Volgende Maandag publiseer ek al die antwoorde asook die wenner van hierdie week se naam.

3. Jy het dan tot Vrydag van daardie week om vir my ‘n vonkpos te stuur met jou naam en adres asook aan wie ek die inskrywing voor in die boek moet rig. Die vonkpos adres is: yolande.pienaar@dkpinvestigations.com

4. Indien ‘n wenner nie reageer voor Vrydag 12h00 nie, sal ek ‘n volgende wenner trek wat dan ook 5 dae het om te reageer.

5. Die boek sal per geregistreerde pos gestuur word aan die wenner en ek sal ‘n sporingsnommer verskaf sodra die pakkie versend is. Slegs adresse in Suid-Afrika kom in aanmerking.

Share

Wen ‘n Kopie van Katelknaap vir Carlien

  • Posted on October 29, 2012 at 11:25 pm

 

 

Die volgende vier weke gee ek elke week ‘n getekende hardekopie weg van die boek Katelknaap vir Carlien. Al wat jy moet doen is om ‘n maklike vraag te beantwoord oor die inhoud van my ander boek Gogga op ‘n Harley. Ongelukkig kan ek slegs hierdie boeke aan persone met ‘n posadres in Suid-Afrika stuur.

Alhoewel beide Gogga op ‘n Harley en Katelknaap vir Carlien by Createspace in boekformaat beskikbaar is, is dit nie in Suid-Afrika op die rakke nie. Jy sal dus een van min wees wat ‘n gedrukte weergawe van die boek besit.

Hoe dit gaan werk

Elke week vanaf Maandag 5 November 2012 gaan ek ‘n vraag op hierdie weblog plaas. Die vrae handel oor die inhoud van Gogga op ‘n Harley. Elke Saterdagmiddag 12h00 sal ek die korrekte antwoorde in ‘n hoed gooi, my oë toeknyp en ‘n wenner trek wie se naam ek die daaropvolgende Maandag op die blad sal aankondig.

Ten einde regverdig te wees sal ek nie die antwoorde wat verskaf is, publiseer totdat die wenner van die vorige week aangekondig is nie. As jy ‘n wenner is, moet jy voor die daaropvolgende Vrydag met my kontak maak op yolande.pienaar@dkpinvestigations.com om jou prys op te eis en my van ‘n adres (in SA) voorsien waarheen ek die boek per geregistreerde pos kan stuur. Indien die boek as geskenk vir iemand anders bedoel is, moet jy dit ook in jou epos meld sodat ek die inskrywing korrek kan doen.

Waar kan jy Gogga op ‘n Harley  en Katelknaap vir Carlien koop?

Beide boeke is beskikbaar op die internet in verskillende formate:

Smashwords.com

Amazon.com

Share

Vrees jy Sukses of Mislukking die Meeste?

  • Posted on May 22, 2012 at 10:54 pm

 

IMG_0934

Vanoggend het ek ‘n interessante weblog raakgeloop oor wat die mens die meeste vrees. Dit is nogal ’n netelige kwessie want niemand wil erken dat hulle bang is vir sukses nie. Almal vrees in ’n mate om ’n mislukking van ’n projek te maak, maar hoeveel van ons is eerlik genoeg om te erken ons is ook bang vir sukses.

Dit klink teenstrydig om te sê dat mens sukses vrees. Almal wil tog suksesvol wees in wat hulle aanpak, so hoe kan jy sê mense vrees sukses? Maklik. Neem byvoorbeeld die skryf van fiksie. Terwyl mens skryf streef jy daarna om die storie na die beste van jou vermoë oor te vertel en bid jy dat dit goed genoeg sal wees. Jy stuur jou storie in die wêreld in en dit het matige sukses. Jy gloei want mense hou daarvan. Al is dit ’n klein mate van sukses, voel dit asof jy op die wolke loop. (baie soos Ikarus in die weblog hieronder)

Wanneer jy weer gaan sit om die volgende storie te skryf, begin daardie sukses jou pootjie. Vertwyfeling trek aan jou gedagtes en maak dat jy soms verlam voor die rekenaar sit. Hoe gaan jy seker maak hierdie storie is weer goed genoeg. Jou lesers verwag nou ’n sekere standaard van jou. Het jy genoeg talent om die een keer sukses weer te herhaal?

Die mens is ’n komplekse wese en emosies maak die verstaan van die wêreld om ons, nie makliker nie. Lees Marcy Kennedy se inskrywing en laat weet wat julle dink.

Share